Skrikkeljaar is nie altyd goed nie

Die jaar het vir ons fantasties begin. Ek en Eloise is in November getroud, en ons het die nuwe jaar ingevaar met ‘n liefdevolle passie, reg vir enigiets. Ons het vir mekaar belowe ons kan alles saam aanpak en as ‘n span is ons sterk. En toe begin die beproewing….

Januarie:

Ons rioolpyp bars. Geen probleem – ons het mos versekering. Nee, dit werk nie so eenvoudig uit nie. Sien, die probleem is dat ons 6 maande tevore splinternuwe paving gelê het – reg bo-oor die nou gebarste pyp. Maar die loodgieter verseker ons dat hy die pyp kan vervang sonder om die paving op te kap. En hy doen dit toe. 3 Dae later is die rioolpyp weer verstop. Onthou, dit is somer in die Kaap en dis warm. Ja, dit het gestink. Erg. Na verskeie probeerslae kom die loodgieter uiteindelik terug en erken dat hy eintlik die pyp onder die paving ook moes vervang het. En daar kak ons nuwe paving. Die uiteinde: rioolpyp wat werk, maar sement wat kliphard orals oor ons paving vassit. Versekeringskoste en nuwe paving & sement uit eie sak: R3500.

Maart:

Ek adverteer my laptop op Gumtree, en kry toe ‘n koper uit Johannesburg. Nou ja, laat ek die storie so kort as moontlik hou. Hy het die ‘n tjek in my rekening inbetaal vir R4500, en na die die tjek ge-’clear’ is, courier ek dit toe op na hom toe. 2 Dae daarna kty ek ‘n sms van die bank dat die tjek gehop het. Wat de fok??!! Dit kom toe uit dat my bank (RMB) oombliklik tjeks in jou rekening se fondse beskikbaar stel. Ja, nog voor hulle dit met die ander bank uitgeklaar het. As daar egter nie fondse beskikbaar is in die ander ou se rekening nie, dan trek hulle die fondse terug van my rekening. Nou hoe de donner moes ek dit weet??!!
Na ‘n verskriklike gesukkel kry ek die laptop-koper in die hande (hy gebruik net PrePaid nommers, so my vriende by die selfoon-maatskappye kon my nie uithelp met adres-details nie.) Anyways, die ou antwoord toe een van sy selfone, en toe ek hom konfronteer toe sê hy vir my die volgende: “Your forefathers fucked mine, now I am fucking you.” Bliksem donner. Ek is oortuig dis die eerste keer, en sover die laaste, wat drool uit my mond uitgeloop het van die woede. En daar is niks wat ek daaraan kon doen nie. Maar die wiel draai….dis al troos….. Verlies: R4300 (Verkoopprys minus Courier koste)

April:

Virus!!! Sonder dat ek of Eloise dit agterkom, het ons rekenaar ‘n Trojan Virus gekry. Die ding is ons het ‘n 3G data konneksie, en ons los dit die heeltyd aan. Ek kyk nooit na my MTN rekening nie, want ons het dit nog nooit oorskry nie, maar vir een of ander rede kyk ek toe daardie maand daarna. Goeie donner!!! R10765 rekening!! Ek skakel dadelik vir MTN en verduidelik die situasie aan hulle. Natuurlik moes hulle reaksie my nie verbaas het nie: “Sorry sir, there is nothing we can do about it.” Nou kyk, ek het ervaring van die selfoon wereld, en internet konneksies kos hulle omtrent niks, maar nee- die Wet van Transavaal geld hierso. Verlies: R10700.

Mei:

Eloise kom agter dat een van ons honde, Pumbaa, bietjie mank loop. Ek maak dit af as net ‘n aktiewe Jack Russel wat iewers haar been verswik het, maar na ‘n week loop sy steeds mank. Raait, veearts toe. Duidelik weet ek niks van honde af nie, want dit kom toe uit dat arme Pumbaa al langer as ‘n week ‘n afgeskeurde knie het. Sy word toe ge-opereer en het ‘n totale knie-vervanging gekry. Nogals cool om ‘n bioniese hond te hê……!! Maar dit behels ook toe dat ons vir 4 weke nie die doggie-flap mag oopmaak nie, en al 3 ons honde se ‘behoeftes’ werk op verskillende tye in die aand, so dis elke 2 ure opstaan om die agterdeur oop te maak vir wie-ook-al nou weer wil gaan piepie. Koste: R 3500.

Julie:

Mischa, ons Staffie (en Eloise se oogappel) slaan die eendag knoppe uit. Sulke gholf-bal size knoppe – 3 in totaal en dit lyk nie gesond nie. Ons gaan egter die naweek weg – natuurlik gaan die honde saam – en besluit ons sal die Maandag haar veearts toe vat. Maandag na werk vat ek haar toe veearts toe, en hulle trek toe ‘n sample uit haar uit. Die Dinsdagoggend bel hulle ons met die nuus wat ons die minste verwag het: Sy het kanker. KANKER. Ons het nog nie kinders nie, so ons 3 honde (daar is nog ‘n Jack Russel, Mufasa, ook) is vir ons soos kinders. Die Woensdagoggend vat ek toe vir Mischa in sodat hulle die gewasse kon uitsny en wegstuur na ‘n labrotorium om te sien of die kanker versprei het. Na 5 dae se angstige gewag kry ons toe die uitslag: dis toe nie kanker nie, maar dooie weefsel. Al wat dit kon veroorsaak is dat iemand haar baie hard, soos in donners hard, geslaan het. Toe ons rustig daaroor dink kom ons agter dat ons die eerste knop gesien het die dag na die tuindienste hier was. Beide ek en Eloise het met die tuindienste gesels, en hulle het alles ontken. Maar na ons met die bure gesels het, hoor ons toe dat die voorman altyd buite ons erf sit en dus glad nie weet wat binne die erf aangaan nie. Ons het net daar die tuindienste afgedank. My bloed kook nog steeds – as ek net ‘n bietjie bewys gehad het, het ek hulle aangekla by die DBV, maar daar is niks wat ek kan doen nie. Gelukkig het sy intussen ten volle herstel, wat die belangrikste is. Net soos Eldre. Veearts koste: R3500.

Augustus:

Ek hoor ‘n snaakse geluid in die bakkie. In my normale ontkennings-manier ignoreer ek dit deur die radio harder te sit, maar die geluid gaan nie weg nie. Uiteindelik raak dit te erg, en ek vat dit in na Automotive Dynamix wat spesialiseer in Diesel voertuie. Die uiteinde: Die turbo het geblaas. Daar is boggerol oor van die ding nie. Nuwe Turbo: R9000.

So, totale onverwagse uitgawes hierdie jaar beloop R34,400. Eloise het hierdie teorie dat al hierdie dinge gebeur oor dit skrikkeljaar is. Aanvanklik het ek gedog sy praat nonsens, maar nou moet ek bieg: sy is (soos altyd) 100% korrek. Gelukkig weet ek nou dat ek 3 jaar het om te spaar voor 2012 aanbreek. Hierdie week sit ek by die werk en kry myself vrek jamer oor alles wat met ons verkeerd gaan. En toe op Dinsdag word ‘n arme onskuldige 16-jarige seun deur ‘n skoolmaat met ‘n swaard doodgemaak.

Is dit nie hartseer dat iets aakligs met iemand anders moet gebeur voor mens besef hoveel jy eintlik het nie?

Nag ou grote.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.